Tyd om stil te staan

Uncategorized Sep 01, 2022

Oestyd het vir die meeste produsente tot ‘n einde gekom. Sommige is opgewonde oor die oes en dat al die produksielenings betaal kon word. Ander boere ervaar toenemende ongemak as hul aan die hoë insetkostes en verwagte mielieprys van volgende jaar dink en wat nodig is om die finansiële knoop deur te hak. 

Boerdery is nie ‘n een-dag krieketwedstryd nie, maar eerder die proses om ware rykdom te skep van een generasie na ‘n volgende. In uitdagende tye soos hierdie is dit nodig om jou oë te vestig op die langtermyn visie en doelwitte van die boerdery. Dit is ‘n tyd om stil te staan… en te beplan.

Hoekom ‘n boerderyplan?

Om toekomstige drome en ideale ‘n werklikheid te maak, is dit belangrik om daarvoor te beplan. ‘n Volledige boerderyplan moet elke faset van die boerdery aanspreek en alomvattend wees. Dit moet ‘n ideale toekomsprentjie skets (waarheen is ons oppad), ‘n realistiese ontleding van die huidige omstandighede (waar is ons nou) en die strategie van hoe om om die ideale toekomsvisie ‘n realiteit te maak.

“Business Strategy is the battle-plan for a better future” Patrick Dixon

Die algehele boerderyplan dien as ‘n kompas vir die besluitnemers en bevestig dat al die rolspelers na dieselfde visie streef. Terselfdetyd dien dit as ‘n baken van hoop in onseker tye.

Wat behels ‘n boerderyplan?

‘n Volledige boerderyplan bevat die volgende komponente:

Boerderyontleding

‘n Ontleding van die huidige boerdery om beskikbare grond, arbeid, kapitaal, skuld en bestuursvaardighede uiteen te sit. Die proses kyk na die wie, wat, waar en hoekom van die besigheid.

Missie

Sodra die boerdery ontleed is, moet die missie ontwikkel of geskaaf word. ‘n Missie is ‘n kort verklaring wat die boerdery se rede tot bestaan verduidelik. Dit is ‘n verklaring wat die onderliggende waardes en doelwitte van die boerdery of familie uitlig.

Besigheidsplan

‘n Volledige besigheidsplan moet ontwikkel word wat die algehele boerderyplan met elkeen van sy vertakkings uiteensit. Die besigheisplan is ‘n uitbeelding van waarheen die boerdery oppad is en hoe dit tot daar bestuur gaan word.

Toekomsbeplanning is een van die belangrikste funksies van bestuur en deur ‘n boerderyplan te implementeer stel dit die produsent in staat om die toekoms versekerd tegemoet te gaan.

Soos my ouboet altyd sê: "Beplanning verlig spanning". Dis nou die tyd om daai kompas te kalibreer.

Close

50% Complete

Two Step

Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit, sed do eiusmod tempor incididunt ut labore et dolore magna aliqua.